Naak International Pty Ltd
E-pos:
info@naakofficial.com
Sellulêr:
072 754 8334
Kliëntediensure:
Maandae – Vrydae: 09:00–16:00
Posadres vir omruilings / terugsendings:
Naak Pakhuis
The Courier Guy Kiosk
Campbell Street
Douglas
Northern Cape
8730
Wanneer jy ons kontak oor ’n bestaande bestelling, gebruik asseblief jou BESTELNOMMER as verwysing.
FIESIESE WINKEL:
Naak in Stellenbosch (112 Dorpstraat) het Karoo toe geskuif.
Ons spasie in die Karoo is nie oop vir die publiek nie en dien slegs as ‘n fisiese aanlynwinkel waar produkte via sosiale media besigtig kan word. Volg ons op Facebook & Instagram.
E-pos ons · Bel ons · Bepalings & voorwaardes
NAAK GEREELDE VRAE
Waar is my bestelling?
Ons verstaan heeltemal dat jy graag wil weet waar jou Naak-pakkie is!
Omdat jou bestelling plaaslik vervaardig en met die hand gemaak word, is daar ’n produksietydperk voordat dit gereed is om na jou toe te vertrek.
Hier is hoe dit werk:
1. Jy plaas jou bestelling aanlyn
Sodra jou bestelling suksesvol geplaas is, ontvang jy outomaties ’n bestellingsbevestiging per e-pos.
2. Jou bestelling word vervaardig
Die toepaslike produksie-/wagtydperk word op die produkbladsy aangedui. Jou bestelling word gedurende hierdie tydperk plaaslik vervaardig en met sorg voorberei.
3. Jou bestelling is gereed!
Sodra jou bestelling klaar is en aan die koerier oorhandig word, ontvang jy dadelik ’n e-pos van ons met jou naspeurnommer. Met jou naspeurnommer kan jy jou pakkie se reis volg en presies sien waar jou Naak-pakkie is.
So, wanneer hoor jy weer van ons?
Die volgende e-pos wat jy van ons ontvang, sal wees wanneer jou bestelling klaar is en onderweg na jou toe is. Jy hoef dus nie bekommerd te wees as jy intussen niks van ons hoor nie — jou bestelling is veilig in produksie en ons is besig om dit vir jou mooi te maak.
Sodra jou bestelling aan The Courier Guy oorhandig word, ontvang jy ’n e-pos van ons met jou naspeurnommer.
Met jou naspeurnommer kan jy jou pakkie se reis volg.
Neem asseblief kennis dat dit soms tot 24 uur kan neem voordat die versendingbesonderhede op die koerier se stelsel verskyn of begin opdateer. Moet dus nie bekommerd wees as jy nie dadelik beweging sien nie — jou pakkie is wel op pad!
Van hier af hanteer die koerier die verdere aflewering.
Indien jy graag wil weet waar jou pakkie op enige stadium is, ’n spesiale afleweringsreëling wil tref, of byvoorbeeld jou pakkie na ’n oornagdiens wil verander, sal jy asseblief direk met The Courier Guy kontak maak en dit met hulle reël. Hulle sal dan die beste kan help met enige spesifieke afleweringsversoeke of veranderinge.
Ons wil jou natuurlik graag help waar ons kan, maar sodra jou pakkie aan die koerier oorhandig is, is enige verdere opvolg, afleweringsreëlings of veranderinge ongelukkig in hul hande.
Ons wil ook net vriendelik noem dat Naak ongelukkig nie verantwoordelikheid kan aanvaar vir enige vertragings, probleme of veranderinge wat ná die oorhandiging deur die koerier ontstaan nie. Ons sal natuurlik altyd probeer help waar ons kan indien daar enige navrae is.
Dankie dat jy geduldig wag vir iets wat spesiaal vir jóú gemaak word.
Ons belowe dit is die wag werd!
Hoe weet ek watter skoengrootte om te bestel?
Ons raai jou aan om jou normale SA/UK-skoengrootte te bestel. Naak-skoene word plaaslik vervaardig en met die hand gemaak volgens standaard SA/UK-skoenleeste, en is oor die algemeen getrou aan grootte.
Dra jy gewoonlik ’n grootte 5? Dan beveel ons ’n grootte 5 aan. Jy hoef gewoonlik nie groter of kleiner te bestel nie.
Is jy tussen twee groottes, of onseker oor ’n spesifieke styl? Stuur gerus ’n e-pos aan info@naakofficial.com met die naam van die skoen — ons help jou met liefde om die regte grootte te kies. ♡
Ons het die voetmates van die webtuiste verwyder omdat voete maklik verskillend gemeet word. Ons verkies om jou eerder persoonlik te help sodat jou Naak-skoene van die eerste tree af reg voel.
Hoe weet ek watter grootte kledingstuk om te bestel?
Jy kan gerus na ons groottegids kyk om die beste standaardgrootte vir jou te bepaal.
Maar hier by Naak het jy ook die opsie om jou kledingstuk gratis volgens jou persoonlike mates te laat maak deur gebruik te maak van die GRATIS NOMMERPAS OPSIE.
Wanneer jy jou bestelling op die produkbladsy plaas, sal daar ’n spasie wees waar jy jou mates kan invul. Ons gebruik hierdie mates om jou patroon spesifiek vir jou te gradeer, waarna jou kledingstuk met die hand volgens jou persoonlike mates vervaardig word.
Belangrik: Maak asseblief seker dat jou mates korrek is voordat jy jou bestelling plaas. Die kledingstuk word volgens die mates wat jy aan ons verskaf, gemaak — verkeerde mates kan dus tot ’n verkeerde pasvorm lei.
As jy onseker is oor hoe om jouself korrek te meet, stuur gerus vir ons ’n e-pos by info@naakofficial.com. Ons help jou met liefde!
Kan ek ’n produk omruil indien dit nie vir my pas nie?
Ja, met liefde! Ons verstaan dat ’n item soms nie heeltemal reg pas nie, en ons help jou graag met ’n omruiling waar moontlik.
Daar is egter ’n paar uitsonderings waarvan jy asseblief kennis moet neem:
Skoene wat spesiaal vir jou gemaak is volgens persoonlike mates, ’n spesifieke kleur of ’n spesiale styl, kan nie omgeruil word nie.
Kledingstukke wat spesiaal volgens jou persoonlike mates gemaak is, kan nie omgeruil word nie.
Produkte wat op afslag verkoop word kan nie omgeruil word nie.
Skoene in groottes 2, 3 en 9 kan ongelukkig nie omgeruil word nie, aangesien ons nie standaard voorraad in hierdie groottes dra nie.
Indien jy onseker is of jou spesifieke produk vir ’n omruiling kwalifiseer, stuur gerus vir ons ’n e-pos by info@naakofficial.com — ons help jou met liefde, met liefde uit die oudedoos
Waar word Naak-produkte gemaak?
Met baie liefde en plaaslike vakmanskap in Suid-Afrika.
Elke Naak-produk begin by ons ontwerper Estelle Grobler Fourie.
Van die eerste skets tot die finale produk is elke ontwerp oorspronklik en eksklusief aan Naak. Dit is nie massaprodukte wat iewers op ’n rak wag om ’n plek te vind nie — dit is ontwerpe wat met opset, verbeelding en baie liefde geskep is.
Ons glo in die mense, handgemaakte produkte, vaardighede en stories agter Suid-Afrikaanse vakmanskap. Daarom word Naak-produkte nie volgens koue massaproduksielyne vervaardig nie. Elke stuk word met sorg gemaak deur plaaslike kundiges wat hulle vak ken — mense wat met hul hande werk en trots is op wat hulle skep.
Elke produk dra dus iets van Suid-Afrika met hom saam.
Ons skoene word met die hand en met groot aandag aan detail vervaardig in Stellenbosch, Durbanville en Johannesburg.
Ons kledingstukke word met liefde deur ons toegewyde produksiespan in Durbanville gemaak.
Ons handsakke word met die hand in Stellenbosch vervaardig, waar elke detail sorgvuldig gevorm, gestik en afgewerk word.
En sommige van ons mees spesiale ontwerpersdrag word in die Karoo vervaardig — ’n landskap wat diep verweef is met die hart, lewe en storie van Naak.
Dit is vir ons belangrik dat ’n Naak-produk nie net ’n ontwerp is nie, maar ’n klein versameling van mense se tyd, vaardigheid en liefde.
Ontwerp deur Estelle.
Geskep deur Suid-Afrikaanse hande.
Met baie liefde gemaak.
Eksklusief aan Naak.
Want wanneer jy iets van Naak kies, kies jy nie net iets wat mooi is nie.
Jy kies ’n oorspronklike Naak-ontwerp, met ’n storie wat hier begin het — en nou deel van jóú storie kan word.
Kan ek my bestelling dringend kry?
Ja, waar moontlik! Kontak ons asseblief vóór jy jou bestelling plaas, sodat ons jou sperdatum kan bespreek en bevestig of ons dit kan akkommodeer.
Ons noem dit ’n Spoedbestelling (Rush Order). ’n Ekstra fooi van R240 is van toepassing, aangesien jou skoene of kledingstuk uit ons normale produksielyn gehaal word en apart, met voorkeur en buite die normale produksieskedule hanteer word.
Die bestelling word ook apart en per spoedkoerier na ons pakhuis gestuur, om te verseker dat dit so vinnig moontlik by jou uitkom. Die ekstra fooi dek dus die bykomende produksie- en koerierkoste wat met ’n Spoedbestelling gepaardgaan.
Let wel: Spoedbestellings is onderhewig aan produksievermoë, beskikbaarheid en die spesifieke sperdatum. Ons sal jou vooraf laat weet of ons die verlangde datum kan akkommodeer. Alhoewel ons alles moontlik doen om jou bestelling betyds te lewer, kan ons ongelukkig nie ’n spesifieke afleweringsdatum waarborg nie en aanvaar ons geen verantwoordelikheid vir vertragings buite ons beheer nie.
Hoe plaas ek ’n bestelling?
Jy kan jou gunsteling Naak-items direk op ons aanlynwinkel bestel.
Kies jou produk, grootte en enige beskikbare opsies, voeg dit by jou mandjie en volg die betaalproses.
Vir veiligheidsdoeleindes behartig ons glad nie bestellings via sosiale media kanale nie.
Jy kan wel deur die kantoor bestel via e-pos na info@naakofficial.com
Wat kos aflewering?
Ons posduif se naam is The Courier Guy — en dié posduif vlieg sommer landswyd!
Ons stuur jou Naak-pakkie met liefde tot reg by jou voordeur, waar jy ook al in Suid-Afrika woon, teen ’n vaste afleweringsfooi van R140 per pakkie.
En die lekker deel? Die grootte van jou pakkie maak geen verskil aan die prys nie. Of jy nou een klein pakkie bestel of jou hele Naak-wenslys in een slag afhandel — die afleweringsfooi bly R140 per pakkie.
Ons pak jou bestelling mooi op, oorhandig dit aan ons posduif en stuur dit naj ou voordeur!
’n Paar belangrike dinge om te weet:
→ The Courier Guy kan ongelukkig nie by plase of informele nedersettings aflewer nie. Maak asseblief seker dat jy ’n fisiese straatadres verskaf waar die koerier veilig kan aflewer.
→ Die R140 afleweringsfooi geld vir standaard aflewerings binne Suid-Afrika. In sekere gevalle kan The Courier Guy ’n bykomende toeslag hef vir aflewerings na gebiede wat as hoërisiko- of gevaarlike gebiede geklassifiseer word.
→ Indien ’n ekstra koerierfooi deur The Courier Guy gehef word weens die ligging van die afleweringsadres, behou Naak die reg voor om hierdie addisionele koste aan die kliënt deur te gee.
Ons probeer altyd om aflewering so eenvoudig en bekostigbaar moontlik te hou — maar ons posduif moet darem ook veilig kan vlieg.